Wat van ons kinders? Kan hulle 'n LKHV volg?
- wixlchf
- Feb 3, 2016
- 6 min read

Ons almal wil hê ons kinders moet:
(hetsy of hulle diabetes het of nie)
Perfekte, normale bloedsuikers hê (as hulle diabetes het)
Gesond wees – gevoed en nie oorvoed of ondervoed nie
Normaal wees
Gelukkig wees
Moet konsentreer op skool
Aktief wees
Leer wat ’n gesonde leefstyl is wat hulle die res van hulle lewens kan volg

Ouers se grootse wens is dat hulle kind met diabetes moet "normaal" wees en nie uit voel nie. Daarom laat hulle toe dat hulle kinders eet wat hulle wil, drink wat hulle wil. "ons spuit maar ooreenkomstig in" Die gevolg van die "leefstyl" is ’n op en af mallemeule van bloedsuiker patrone.
Die feit is: jou kind het diabetes. Dit is nie normaal nie. Solank as wat jy nie beheer het oor bloedsuiker vlakke het nie, kán jou kind nie normaal wees nie.
Met 'n leefstyl van "eet wat jy wil en spuit daarvoor in", voel die kind verskeie kere op 'n dag nie lekker nie.
Is dit normaal?
Hy kry lae bloedsuiker, korrigeer met te veel koolhidrate, sit dan met 'n hoë bloedsuiker daarna, wat 9 uit die 10 keer nie opgetel word nie, want geen opvolg glukose toets word gedoen nie. Of hy het hoë bloedsuiker en weereens vind 'n oor korreksie plaas en dikwels word gekla "vanaand slaap ons weer nie" of "dit gaan ’n lang nag wees", want die kind se suiker is buite beheer.
Weereens is dit normaal?
Met ’n lae koolhidrate hoë vet dieet kan normale bloedsuikervlakke bereik word.
Kinders op die leefstyl:
het baie minder hipoglukemie en hiperglukemie;
Mikro bolus vir hipoglukemie (Lae bloedsuiker) en mikro korrigeer vir hiperglusemie (hoë bloedsuiker);
voel goed amper elke dag en die hele dag;
gaan slaap met ’n normale bloedsuiker vlak en staan op met dieselfde bloedsuiker vlak. Almal in die gesin kry meer rus;
kan konsentreer op hulle skoolwerk;
voel meer normaal;
ooreet nie en smag nie heeltyd na iets om te kou nie;
het meer energie;
leer van kleins af wat gesonde kos is en leer daarmee saam om beter gesonder keuses te maak. Waarmee kinders grootword, leef hulle in hulle lewe uit.
Is dit nie nader aan normaal nie?
Toegegee, diabetes is onvoorspelbaar en soms sit mens met onverklaarbare tellings. Dit gebeur egter nie elke dag nie en mens sien kans om dit te hanteer wanneer dit opduik.
Kinders se liggame groei teen 'n vinnige tempo. As ons hulle nie voed met die regte voedingstowwe wat al die komplekse meganismes in die binnekant van hul liggame nodig het nie, stel ons hulle bloot aan 'n baie ongesonde toekoms.
Kinders moet goeie vette inneem – dit hou hulle langer versadig, bevat essensiële vetsure en verskaf die vetoplosbare vitamiene A, D, E en K. Dit verskaf hulle energie. Die liggaam leer om vette te gebruik as energie in die plek van glukose.
Kinders moet proteïene eet- dis boustene vir hul groeiende spiere en weefsel. Hulle inname van proteïene moet min of meer dieselfde wees as hulle inname van vette. Hulle volg dus meer 'n LKHVHP - wat 'n mondvol - lae koolhidrate, hoë vet en hoë proteïen leefstyl. (Moenie bekommerd wees nie - daar is geen daadwerklike navorsing wat aandui dat hoë proteïene nierprobleme veroorsaak nie)

Kinders kan koolhidrate eet- maar nie naastenby soveel as wat mens dink nie. Die liggaam het egter nie koolhidrate nodig nie. Al eet mens geen koolhidrate nie, kan die liggaam dit self vervaardig, daarom het die liggaam nie koolhidrate nodig nie.
Kinders moet egter groente eet om die nodige vesel, vitamiene, minerale, spoorelemente, antioksidante ensovoorts in te kry. Onthou vrugte en groente is nié dieselfde nié.
Vrugte is ongelooflik hoog in koolhidrate en veral fruktose.
Beperk vrugte en eet net heel vrugte (en nooit vrugtesap of gedroogde vrugte). Wees bewus wees van die koolhidraat telling in vrugte. Gaan vir laer suiker vrugte soos bessievrugte. Beperk hoë suiker tropiese vrugte soos pynappel, spanspek, druiwe, ens
HOE KRY EK MY KIND OM SO TE EET?
Streef na verbetering en nie na perfeksie nie -
beskou elke stap as 'n leerproses
Maak dit ’n reël in julle huis dat hulle nie van alles hoef te hou nie, maar hulle MOET alles probeer;
Nog ’n reël – niemand mag kla oor enige kos nie - hulle hoef nie daarvan te hou nie, maar hulle mag nie kla nie;
Laat hulle ten minste 3 happies van alles vat en dan ook punte gee vir elke kossoort op hulle bord (Sodoende leer jy waarvan hulle hou);
Sit 'n verskeidenheid voor;
Maak kos en hou etes pret – moenie die etetafel gebruik om kinders aan te vat oor wangedrag nie;

Maak die kos interessant – maak hulle deel van die voorbereiding (en aankope), laat hulle die nuwe kos sien as 'n ekspedisie, 'n eksperiment;
As hulle die week nie van iets hou nie, maak dit volgende week anders gaar. Geroosterde groente byvoorbeeld bring soet na vore, bietjie suurlemoensap maak meer bitter groente meer smaaklik – soos byvoorbeeld, brokkoli, brusselse spruitjies, boontjies, murg-pampoentjies; of gee rou in plaas van gaar en andersom;
Hou aan die kos voorsit hulle sal wel een of ander tyd dit begin eet. Dit kan soveel as tot 10 selfs 15 probeerslae neem voordat 'n kind iets eet. Moet hulle egter nie forseer om te eet nie;
Kinders tussen 18 maande en 24 maande is gewoonlik kieskeurig wat kos aanbetref. Hulle smake kan skielik verander. (Prof Benton sê dit is soms 'n verdedigingsmeganisme omdat kinders op die ouderdom begin loop en dit keer dat hulle giftige kos in hulle monde druk. Gelukkig ontgroei hulle dit :-) ;
Ek lees êrens dat mens effe "sielkundig" met hulle te werk kan gaan. (skelm, ek weet!) Skep 'n groter porsie in as wat hulle nodig het en gaan met hulle ’n ooreenkoms aan om slegs die helfte te eet;
Moenie kos as beloning gebruik nie, of as straf nie, of vir omkopery nie – nooit ooit –dit lei tot emosionele eetgewoontes;
Leer hulle om slegs water te drink as hulle dors is. Dit help ook met konsentrasie;
Hou hulle kosblikke vir skool interessant - daar is 'n magdom van idees op die internet;
Laat hulle toe om partytjies by te woon. Moenie dat hulle "uit" voel nie. Gee hulle egter kos voordat hulle gaan sodat hulle versadig daar opdaag, dan ooreet hulle nie hulself aan die "verkeerde" kos nie. Jy sal opmerk dat hulle smaak verander na ’n tyd en dat soet kos nie meer so lekker is nie. Kinders speel ook baie en is meer aktief by kinderpartytjies. Die samesyn is belangriker as kos. Aktiwiteit help ook om hulle bloedsuiker laer te hou;
Laat hulle toe om klas partytjies by te woon, weereens gaan met hulle ’n ooreenkoms aan as hulle hul eie kos klaar geëet het, kan hulle deelneem.
Weereens streef na verbetering en nie perfeksie nie – ek glo vas aan 80% is klaar goed genoeg.
Hou by skedules van vaste maaltye – kinders het roetine nodig om te floreer, moet hulle egter nie dwing om te eet as hulle nie honger is nie;
Onthou hoe groot kinders se magies is – hulle hoef baie keer nie so baie te eet as wat jy wil hê hulle moet eet nie. ('n kind maag is ongeveer so groot as hulle vuisie.) Indien hulle groei binne perke is, moenie bekommerd wees as hulle nie eet nie;
Onthou ook, jou kinders gaan jou toets. Bly kalm! Hulle kan dalk 'n paar etes nie goed eet nie. Laat dit verbygaan. Moenie oorreageer nie. Moenie hulle forseer nie of druk uitoefen nie. As hulle nie wil eet nie, los hulle. Verduidelik egter dat dit die kos is wat hulle gaan kry, elke dag, niks anders nie en dat hulle moet leer om dit te eet. Moenie bekommerd wees nie, jou kind sal nie doodgaan van die honger nie, hy sal wel eet!;
Verduidelik dat hulle 'n keuse het om te eet of nie te eet as hulle nie honger is nie, maar geen ander kos sal voorgesit word nie en dat hulle aan tafel sal sit al eet hulle nie;
Verduidelik hoekom die kos gesond is en hoekom daar nie meer ander kos geëet word nie. Hulle moet leer wat gesonde kos is;
Moenie toegee en ander snoeperye tussen etenstye gee nie, tensy hulle regtig honger is nie. Gee dan aan hulle 1 of 2 keuses van een of ander gesonde versnaperings soos wortelstokkies of neute.
Moenie kinders onderskat nie. Deur gesond te eet, sal hulle gou agterkom dat kafkos hulle laat sleg voel. Verduidelik dan weer dat jy aan hulle gesonder kos gee sodat hulle beter kan voel en beter kan konsentreer en beter kan groei.
As jy enige ander wenke het - sê my dan voeg ek dit by

Comentarios