Nou wat nou? Wat en hoe begin ek met LKHV?
- wixlchf
- Feb 3, 2016
- 4 min read
Deel 2 van die reeks oor hoe om die leefstyl te begin.

Noudat jy die lyste gelees en geïnternaliseer het – dis 'n "grand" woord wat beteken jy het dit jou eie gemaak.
Dit wat jy nie mag eet nie is nou in jou brein vas geëts.
WAT IS VOLGENDE:?
Jou kruidenierskas en yskas moet nou weer volgemaak word.
Moenie oorboord gaan en net gaan koop nie. Jy gaan geld mors en onnodige bestanddele koop wat gaan vermors, oud of vrot word.
Die eerste week of twee (of selfs langer) begin nou stadig oorbeweeg na die lae koolhidraat leefstyl. Die maklikste is om aanvanklik net alles op die rooilys is uit te sny. Vermy dus dit wat op die rooilys is, eerste.
Herinnering: Die rooilys sluit in alle vorme van suiker, (rou en as bestanddeel in produkte) of vorme van suiker nie (fruktose ook!); alle vorme van meel en graan (rou en as bestanddeel in 'n produk) – met ander woorde geen brood, koek, koekies of deeg nie en geen ontbytgraan nie; geen stysels nie (rys aartappels en pasta nie) geen verwerkte kos nie, niks wat in pakkies, blikkies of boksies is nie. Geen saadolie soos sonneblomolie of canola olie nie. Hou heeltyd die vraag ingedagte: Is dit in 'n fabriek gemaak of vervaardig? As jou antwoord “ja” is, dan koop jy dit nie en eet jy dit nie.
Begin stadig en beplan etes. Dit klink na baie werk, maar jy sal gou daaraan gewoond raak en daarna sal aankope en beplanning makliker wees.
Moenie dadelik wegval en begin bak en brou nie. Begin eers net deur gewone natuurlike kos te eet en te koop.
Aanvanklik voel of jy te veel tyd in die kombuis bestee en baie winkel toe te ry.
Beplan aanvanklik jou etes óf daagliks óf weekliks en ry net daarvoor winkel toe.
Moenie ander items koop as wat op jou lys is nie.
Moenie glad nie in die gange ingaan waar jy nie iets nodig het nie.
Moenie te veel groente op een slag koop nie. Dit word vrot voordat jy alles opgebruik. Byvoorbeeld as blomkool op "special" is vermy die temptasie om 3 te koop as jy weet jy gaan dit nie binne een week opeet nie. Jy kan nie alle groente altyd vries nie, byvoorbeeld tamaties en komkommer en blaarslaai. Persoonlik hou ek nie van die smaak van ontvriesde blomkool nie – die kool smaak kom te sterk na vore. Murgpampoentjies vries ook nie lekker nie.
Jy kan wel vleis in groter mate koop en vries.
Dink die eerste week in terme van vleis en groente vir etes. Natuurlik gaan jou gesin kla oor die afwesigheid van brood en aartappels en rys wat hulle nie kan eet nie! Hulle moet besef dis ’n aanpassing, veral in die begin. Oorreed hulle subtiel maar ferm dis vir hulle gesondheid!
Probeer om saam met elke maaltyd groen blaargroente te eet. (Groei later sommer jou eie tussen jou bestaande tuinplante of sommer in tuinpotte.)
Maak voorsiening vir snoeperye ("snacks"), veral die eerste paar weke. Dis belangrik dat jou liggaam gewoond raak aan minder koolhidrate en omdat jy honger voel (dis sielkundig en fisies) dat daar genoeg voorsiening is vir versnaperings in die vorm van kaas, neute, biltong, eiers, ens Nadat jou liggaam gewoond is aan die leefstyl, gaan jy dit nie meer koop nie en gaan jy minder eet en jy wil dit verkieslik vermy, veral as jy wil gewig verloor.

Jy gaan werklik merk jou kruideniersware uitgawe is minder want vars kos is goedkoper as pakkies en blikkies. Jy koop nie meer lekkergoed nie, jy koop nie meer koeldranke nie en ook nie meer enige kafkos nie.
Maak 'n gewoonte daarvan om jou kos in botter of klapperolie of vet of palmolie gaar te maak. Klapperolie is goedkoper as olyfolie. Palmolie is goedkoper as klapperolie (Die gebruik van palmolie is egter kontroversieel a.g.v. die gepaardgaande storie dat reënwoude vernietig word om palms te groei waarvandaan palmolie kom). Braai jou eie vet uit. Die slagter verkoop beesvet los. Vra net dat hy dit vir jou maal, aangesien dit makliker uitbraai. As jy olyfolie kan bekostig koop dit maar gebruik dit “rou” en nie as gaarmaak middel nie. (Olyfolie ondergaan 'n chemiese reaksie wanneer dit verhit word). Eet vetterige snitte vleis moenie die lekker velletjie van hoender aftrek nie.
Drink room i.p.v. melk in jou koffie en tee. Nog beter leer hoe om 'n heerlike "bullet" koffie te maak, sodoende kry jy genoeg vet in om jou langer versadig te hou.
Verminder stadig maar seker versoeter in jou koffie of tee – begin met die normale hoeveelheid vir ’n paar dae en verminder dit stelselmatig sodat jou smaakknoppies daaraan gewoond raak totdat jy geen versoeter meer gebruik nie. Maak dit jou doel.
Drink water i.p.v. enige ander koeldrank. Leer om 'n klein bietjie sout in die water te gooi om jou elektroliete op te bou (net so dat jy nie die sout proe nie), veral as jy gefilterde water drink.
In die volgende artikel, van die reeks, kyk ons na wat jou aanvanklike aankope kan wees.
Comments