LKHV - nou wat nou? Hoe begin ek?
- wixlchf
- Jan 26, 2016
- 3 min read
Deel 1

Die hele konsep van lae koolhidrate kan heeltemal oorweldigend voel. As jy egter eers die konsep gesnap het, is dit baie eenvoudig .
Die heel eerste wat moet gebeur is om jou ingesteldheid te verander.
Onthou, ons is grootgemaak met die idee dat lae vet en genoeg koolhidrate ‘n gesonde leefstyl is. Ons het selfs skooleksamens daaroor geskryf. Daagliks word ons gebombardeer met advertensies van sogenaamde “gesonde” "gebalanseerde" kos. Jy moet nou heeltemal anders begin dink oor kos en nie net dit nie, jy moet leer wat die werklike voedingswaarde van kos is. Jy sal besef dat voedsel wat jy dink is gesond, nie gesond is nie. Dis 'n leeftyd van "foutiewe" kennis wat in die water gegooi word. Jy gaan besef dat koolhidrate geen voordele inhou nie. Jou liggaam het dit nie nodig nie. Kinders het dit nie nodig om te groei nie.
Dit gebeur nie oornag nie.
En moenie 'n fout maak nie, al sê mense wat. Dis nie altyd so maklik om te begin nie. Alhoewel die kos lekker is, smag mens steeds met tye na daardie lekker soetdingetjie waaraan jou liggaam so gewoond is. Dis gevormde gewoontes wat moet verander. Anders as wat mmens sou dink, is dit soms makliker vir kinders as vir volwassenes wie se liggame klaar verslaaf is. Ekself het 2 jaar navorsing gedoen en kort-kort begin voordat ek vasgeskop het teen die verslawing en die leefstyl begin volg het.
Die leefstyl is nie duurder as jou bestaande leefstyl nie. Jy sal gou agterkom jy eet in die eerste plek minder en tweedens koop jy nie meer kafkos nie.
Een van die doele van die leefstyl is om bloedsuiker te beheer en insulien te verminder (vir beide tipe 1 diabete wat inspuit en tipe 2 diabete wat te veel insulien het en wie se liggame insulien nie reg gebruik nie.) Te veel insulien kan selfs veroorsaak dat tipe 1 diabete insulienweerstandig raak. (later meer oor insulien in ’n ander blogartikel)
Begin stadig....
Die dieet is 'n leefstyl wat deur die hele gesin aangeneem moet word. Dis is tydloos en volhoubaar mits jy dié leefstyl aanpas om by jou leefstyl in te pas, maar ook, jou leefstyl om by die dieet aan te pas. Aanpassings gààn gemaak word: binne jou lewe, binne jou gesin en binne jou liggaam!
Lae koolhidrate hoë vet (LKHV) is net: dit ' n vorm van 'n dieet. Daar is verskeie vorme en weergawes van die dieet – Dr. Bernstein, Paleo, Primal, Real food, Atkins, Banting en ook ander ketogeniese diëte. Elkeen laat iets uit wat dalk by 'n ander ingevoeg is en varieer slegs effe van mekaar. Wanneer jy die lyste in die webblad volg as beginpunt en jy maak aanpassings waarby jou liggaam en gesondheid die meeste baat vind, mag jy dalk agterkom dit val binne een van die diëte se raamwerk, sonder dat jy dit besef.

WAT IS EERSTE?
Die meeste Tipe 1 diabete weet hoe om koolhidrate tel. Tipe 2 diabete is veronderstel om dit te weet, maar weet selde. Indien jy nie weet nie, leer hoe om dit te doen. Dit bly belangrik, al verminder jy koolhidrate.
Leer hoe om etikette te lees. Weet wat die bestanddele is in voedsel. Leer die name ken vir suiker en koolhidrate.
Skaf 'n goeie kombuisskaal aan. Dis een kombuis apparaat waarsonder jy nie gaan kan klaarkom nie. Self al volg jy nie ’n lae koolhidraat dieet nie en jy is 'n diabeet gaan jy in elk geval een nodig hê. Die skaal word aan die begin gebruik om jou gewoond te maak aan porsie groottes. Dit word ook deurgaans gebruik in voedselvoorbereiding.
Nog ’n kombuis apparaat wat handig te pas kom en wat jy so gou moontlik kan aanskaf is 'n elektriese handmenger (stokmenger). Jy gaan dit amper elke dag gebruik. Ek het inteendeel twee en soms wonder ek of ek nie nog een moet kry nie.
’n Verdere apparaat wat ek baie handig vind by voedsel voorbereiding, is ’n elektriese koffiemeule.
Bestudeer die verskillende voedsellyste. Kyk wat is aanvaarbaar om te eet en wat is onaanvaarbaar om te eet. Let veral op op die lys met kos wat vermy moet word. (Hoekom dit vermy moet word, sal in 'n opvolg blogartikel bespreek word.)
Gaan deur jou yskas en koskaste en haal alles uit wat op die rooilys is. Dit klink na mors, maar skenk dit aan iemand wat dit nodig het.
Lees, leer, lees, doen navorsing. Kennis is mag.
Die eerste stap is dus om inligting in te win. Leer eers en pas dan toe.
In die volgende artikel kyk ons meer in detail na wat en hoe om te begin eet.
Comments